Bruilof Afrikaans Press Release 2012

Die Trouklokke Klink op KykNet

Bruilof is die splinternuwe leefstyl program wat Suid-Afrika se wêreldklas trouindustrie onder die vergrootglas plaas. In die eerste seisoen besoek aanbieders Louise de Nysschen en Jacinda Louw-Schutte asemrowende en gesogte venues in die hartjie van die wynland, aan die weskus en regoor ons pragtige land. In hul hemelhoë hakke loop hulle die trouwêreld plat en bestudeer die jongste dekor neigings, kry nuttige wenke by die industrie se top troubeplanners, paradeer in sprokiesagtige trourokke rond en help so bruidspare om hul volmaakte troudag tot in die fynste detail te beplan.

In die loots-episode wat op 7 Augustus op KykNet begin speel, kuier Louise by bekroonde trourok ontwerper Elizabeth Stockenstrom se ateljee en bewonder van die besonderse skeppings in haar vertoonvenster. Mede-aanbieder Jacinda gesels met Uwe Koeter se Johan Louw oor verloofringe en deel wenke wat duur foute kan voorkom. Christine Meintjies verruil haar plek agter die kamera vir ‘n kolletjie in die kalklig langs Louise om die moets en moenies van troufotografie te bespreek, terwyl Kanya Hunt ‘n verskeidenheid van haar ryk en dekadente troukoeke ten toonstel – amper te mooi om te eet, maar net te aanloklik vir Jacinda om te weerstaan. Finansiële guru Anria van Heerden deel 'n paar goue begrotingswenke en die program sluit af by Webersbrug – een van die wynland se pêrels en ‘n gewilde venue onder bruidspare en troubeplanners.

Die reeks is die breinkind van regisseur Dewet van Rooyen en sy gedugte span by Mandelbrot Studios. Die idee is gebore uit jare se ervaring in trouvideografie en kaste vol argiefmateriaal. Toe Bruilof oorspronklik as ‘n Engelse reeks, ‘Down the Aisle’, aan MNet voorgelê is, was die paneel stomgeslaan en is dit daar en dan besluit dat die reeks op KykNet uitgesaai sal word – die enigste Afrikaanse program in sy soort. Paartjies wat ‘n troue beplan sal ook dadelik die naam van die hoofborg herken: Trou Inspirasie – ‘n Afrikaanse trouwebtuiste wat bruide idees vir hul mooiste dag gee, in hul moedertaal. 

Ontmoet die aanbieders…

Jacinda Louw-Schutte
Jacinda is ‘n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie, tydskif-voorblaaie en loopplanke. Oor die afgelope jare het sy TV-verskynings gemaak op programme soos Kwêla, Pasella, Om die Wêreld, Morning Live en Top Billing en was tot onlangs ‘n aanbieder op Ultra Simple Golf op Supersport 1. Toe sy in 2006 die eindrondte van Survivor SA haal, het sy deur en deur bewys sy is veel meer as net ‘n beeldskone gesiggie, en met genoegsame huweliks- en ouerskap kennis in haar aktetas, is Jacinda beslis ‘n kosbare aanwins vir die Bruilof-span.

Louise de Nysschen
Louise het haar deurbraak tot die filmindustrie gemaak met haar rol as die naïewe rykmansdogter Jesse in die Afrikaanse rolprent Liefling. Hier het die filmgogga haar stewig beet gepak en so is sy agter die skerms van Bakgat 2 in as bemarkingskoördineerder. Die volgende keep op haar kerfstok was die rol van Katja Steenkamp in die gewilde TV-sepie Generations. In 2012 het sy die knoop met haar heel beste vriend deurgehaak, en met terugkeer van haar wittebrood het sy feitlik reguit van die vliegtuig op die Bruilof stel geklim.

Anria van Heerden
Anria het haar TV debuut in Reise en Soetkyse gemaak en is deesdae bekend as die sjiek en avontuurlustige motorfietsmeisie op KykNet se Woema. Anria besit al sedert 1998 haar eie finansiële adviseurs praktyk en is al vir 13 jaar gelukkig getroud. In seisoen 1 van Bruilof deel sy kosbare insigte en advies vir die troudag en haar finansiële kennis is sonder twyfel iets waarby bruidspare asook getroude paartjies sal baat vind.

Hannes Loubser
Hannes Loubser is die Kreatiewe Direkteur van Wedding Concepts en ‘n reus in die trou-bedryf. Sedert hy in 2007 by díe internasionaal bekende trou-koördinerings maatskappy aangesluit het, het hy ‘n wêreld se kennis in gepalm en spoedig sy pad oopgewerk tot een van die mees gesogte troubeplanners in die industrie. Na hy in sy hoedanigheid as Wedding Concepts se trou-guru die Bruilof span vir ‘n ses geslaan het, is hy gevra om gasaanbieder te speel vir die res van die seisoen.
Bruilof word vanaf 7 Augustus 2012 om 21:30 op KykNet (kanaal 111) uitgesaai.


No comments:

Post a Comment